AFR   ENG
News Article

Vordering ten opsigte van samesmelting tussen VKB en GWK


Die integrasieproses ná die samesmelting tussen die landboumaatskappye VKB en GWK op 31 Mei 2023 toon goeie vordering.

Die VKB Groep, met GWK ingesluit, het in sy 2024-finansiële jaar (geëindig 31 Maart 2024)‘n genormaliseerde wins voor belasting van R608 miljoen aangeteken, nieteenstaande uiters moeilike ekonomiese- en klimaatsomstandighede. Die Groep is daarom baie dankbaar vir hierdie resultaat en waardeer sy kliënte se lojale ondersteuning opreg.

In die huidige finansiële jaar word die impak van ongunstige klimaat steeds gesien, asook die algemene ekonomiese druk op die primêre landbouprodusent en die algemene verbruiker. Proaktiewe aksieplanne is tydig in plek gestel en die situasie word aktief bestuur.


Waardeskepping

Werklike waardeskepping is ‘n noemenswaardige doelwit van die samesmelting. In dié opsig word waarde geskep deur middel van gesamentlike aankope, verspreiding en voorsiening van produkte. So ook word daar reeds tasbare waarde ontsluit in die energieverskaffingspasie deurdat die Groep gesamentlik kon beding en gevolglik in sonenergie projekte belê het, wat wesenlike waarde skep by die hoender-abattoir asook ‘n aantal graanmeulens.


Strategie en strukture

Die Groep het in die derde kwartaal van 2024 'n omvattende hersiening en formalisering van sy maatskappystrategie voltooi en aan personeel en ander belanghebbendes bekendgestel. Die hersiening van besigheidsmodelle geniet tans aandag en is op koers volgens die Groep se strategiese doelwitte en tydlyne.

Ander belangrike mylpale is die aanstelling van die VKB Groep se uitvoerende bestuurspan in Augustus 2023 en die finalisering van maatskappystrukture in die eerste kwartaal van 2024. Hierdie vroeë belyning het 'n gladde integrasie van funksies moontlik gemaak en 'n gefokusde en gemotiveerde bestuurspan geskep.

PG Strauss, Besturende Direkteur van die VKB Groep, beklemtoon dat die maatskappy steeds daarop fokus om die besigheidsgrondslag te stabiliseer. Dit sal die weg baan vir toekomstige groei. “Daar moenie vuurwerke verwag word nie. Die samesmelting bied slegs ‘n beter gebalanseerde grondslag met meer diversiteit in die verspreiding van risiko,” het Strauss reeds voor die amptelike aanvang van die samesmeltingsooreenkoms genoem.

“Vooruitgang bly 'n dryfveer en ons is vol vertroue in die waarde wat tot dusver gerealiseer het,” sê Strauss verder. “Dit is belangrik dat ons voortgaan met die regte besluitneming om langtermynvolhoubaarheid, -groei, en -waarde te verseker. Dit vereis dat ons nie oorhaastig is nie, maar eerder gefokus bly op die groter doelwit – om die landboubesigheid van die toekoms te bou.”


Geografiese voordele

Die VKB Groep se uitgebreide geografiese voetspoor bied 'n natuurlike risikoverskansing, veral in wisselende klimaatstoestande. Hoewel ongunstige toestande produsente altyd sal beïnvloed, kan gunstige toestande in ander streke en nywerhede die impak versag en die Groep se algehele prestasie stabiliseer. Dit is reeds sigbaar in die huidige finansiële jaar se resultate tot op datum.

Die gediversifiseerde aard van die besigheid stel die VKB Groep in staat om skokke in moeilike tye beter te absorbeer, en die uitgebreide voetspoor het reeds nuwe geleenthede ontsluit – iets wat vóór die samesmelting meer uitdagend was.


Talent

Die gekombineerde talentpoel bring unieke perspektiewe, idees en 'n kultuur van innovering bymekaar. Deur samewerking tussen kundiges in dieselfde loopbaanvelde, met verskillende ervaring en agtergrond, word beste praktyke gedeel en geïmplementeer om doeltreffendheid en waarde te ontsluit. Die uitgebreide struktuur van die VKB Groep bied selfs groter potensiaal vir loopbaanvordering en werkskepping in Suid-Afrika.


Ten slotte

Die maatskappy het die integrasieproses uit die staanspoor met deeglikheid en omsigtigheid benader, terwyl resultate en 'n fokus op kliëntediens en gehalteprodukte steeds voorkeur geniet het.

Die goeie vordering met die samesmelting kan toegeskryf word aan 'n gestruktureerde benadering gelei deur die kundigheid van die VKB/GWK-integrasiekomitee, in samewerking met die VKB Groep se direksie en uitvoerende leierskapspan.

Die VKB Groep bly daartoe verbind om volhoubaarheid en vooruitgang in die bedryf te bevorder en om 'n positiewe verskil in gemeenskappe regoor die land te maak.


Meer Nuus


MAANDAG - VRYDAG
08:00 - 17:00
E-POS ONS:
[email protected]
BEL ONS:
+27 (53) 298 8200