GWK is as toonaangewende agri-onderneming uniek geposisioneer met `n volledige reeks produkte en dienste, aangebied deur `n gediversifiseerde groep besighede wat fokus op omvattende oplossings vir moderne landboubesigheid.
Ons kliëntgerigte fokus op volhoubare welvaartskepping vir vennote in landbou maak dit moontlik om letterlik `n nasie te help voed én bekende, gehalte handelsmerkprodukte plaaslik vir die verbruiker te produseer.
GWK, `n publieke maatskappy met sy hoofkantoor op Douglas, fokus op waardetoevoeging vir vennote in landbou. GWK se sukses is regstreeks verwant aan die sukses van sy aandeelhouers – die produsente wat GWK ondersteun en landbouprodukte van hoogstaande gehalte produseer en lewer.
Die GWK-groep het danksy ons aandeelhouers die afgelope paar jaar nie net vordering gemaak ten opsigte van die omvang van fasiliteite vir moderne landbou-besigheid nie, maar ook wat betref die diversiteit en gehalte van produkte en dienste.
GWK is daarom vandag nie net een van die grootste landboubesighede in Suid-Afrika nie, maar ook suksesvol as die mees diverse landboubesigheid in die land.
Die maatskappy se omvattende reeks produkte en dienste word deur ses divisies aangebied:
GWK se Graanprodukte-divisie is `n groepering van dinamiese graanverhandelings en -hanteringsbesighede wat gerusstelling en vertroue by produsente vestig met gehalte diens. Besighede in dié divisie se dienste sluit in graanaankope, graangradering, graanberging en graanverhandeling. Koring, mielies, sojabone en gars is deel van die produkreeks wat die divisie hanteer.
GWK se Spesialisprodukte-divisie bied aan produsente die geleentheid om te divisersifiseer. Verbouing van dié produkte bied wissel-bougeleenthede om graanopbrengste te verhoog. Dit bied ook die geleentheid om nuwe afsetmoontlikhede te benut by GWK se verwerkingsaanlegte. Die divisie hanteer `n verskeidenheid produkte, naamlik oliesade, katoen, lusern en veevoere, wyn, aartappels en pekanneute. Advies aan produsente vir die verbouing van gewasse, logistieke ondersteuning soos plaaslaaie, berging en onderhandeling van afnemerskontrakte is deel van die diens wat deur die verskillende besighede in die divisie gelewer word.
GWK se divisie vir Primêre Produksie fokus op produk- en diensinsette vir produsente. Dit sluit in die bemarking en verkope van eie sowel as eksterne verskaffers se inset-produkte. Sidi Parani, GWK se bekende Suid-Afrikaanse vervaardiger van korrel- en vloeibare kunsmis, vorm deel van hierdie divisie. Saadproduksie, -verwerking en -bemarking word ook in dié divisie gedoen. Omvattende versekeringsoplossings en ’n landswye logistieke diens vir pad- en spoorvervoer word ook aangebied. ’n Navorsing- en ontwikkelingsdiens vir produsente met ’n fokus op hoëtegnologieboerdery verseker dat GWK se produsente deurgaans op hoogte is van die jongste tegnologie en optimale opbrengste realiseer. Die ontwikkeling van opkomende boerdery is ook vir GWK ’n prioriteit. Meer as 1 000 opkomende produsente is die bevoordeeldes in verskeie projekte waarby die besigheid vir navorsing en ontwikkeling betrokke is. Die divisie hanteer ook GWK se eie landbouproduksie-bedrywighede waar die maatskappy self by gewasproduksie betrokke is.
GWK se divisie vir Veilings, Vleis en Supermarkte fokus deurlopend daarop om die afsetgebied vir produsente se vee te vergroot. Veilings word weekliks by GWK se fasiliteite gehou. GWK is betrokke by groot- en kleinveeveilings, stoetveilings en wildveilings. Veeverkryging en die fasilitering van transaksies tussen produsente is ook deel van die diens wat deur die divisie gelewer word. GWK Vleis bedryf twee skaapabattoirs en voerkrale te Groblershoop en De Aar. Die fasiliteite is goedgekeur vir uitvoer en lewer kwaliteit handelsmerke eksklusief aan kettinggroepe. Die Food Lover’s Market Free Range Karoo Lamb, Fresh by Nature Lamb, Woolworths Free Range en Makro Natural Karoo Lamb handelsmerke word slegs deur GWK Vleis verskaf en is getuienis van die voedselveiligheids- en produkstandaarde wat gehandhaaf word. GWK Vleis bedryf die Tri-Star beesvoerkraal naby Hartswater. Die abattoir het uitvoerstatus na Afrika en die Midde-Ooste. Alle fasiliteite word onafhanklik geoudit in terme van voedselveiligheid en produkkwaliteit. Die divisie belê verder in supermarkte wat `n geleentheid aan produsente bied om hul produkte verder in die waardeketting te bemark en op hierdie manier nuwe geleenthede in die waardeketting te ontsluit.
GWK se Handelsdivisie het `n venootskap-benadering tot ons klante. Ons wil graag deel wees van ons klante se besigheid. Die divisie bestaan uit meer as net koop en verkoop. Ons wil `n langtermyn-verhouding met ons klante bou. Eerlike personeel en goeie tegniese produkkennis is `n onmisbare skakel wanneer `n mens sake doen. Ons klante moet `n warmte van elke personeellid ervaar. GWK se kleinhandeltakke bedien die hele GWK-streek met `n wye reeks produkte vir produsente, die tuinier, die huisvrou en die publiek. GWK Meganisasie en Ingenieurswerke is `n John Deere-handelaar, verskaf `n diverse reeks trekkers en landbou-implemente en beskik ook oor werkswinkels waar alle herstelwerk gedoen word.
GWK se Korporatiewe Dienste divisie rugsteun alle besighede en bestuurstrukture in die GWK-groep met gespesialiseerde dienste soos finansiële bestuur, risikobestuur, inligtingstegnologie, regs-dienste, menslikehulpbrondienste en korporatiewe bemarking. Die divisie verseker onder meer dat net die beste sakepraktyke deurgaans in die hele GWK-groep tot voordeel van GWK se aandeelhouers toegepas word, is verantwoordelik vir die groep se daaglikse sake- en bestuursadministrasie en is ook oorhoofs verantwoordelik vir GWK se gemeenskapsprojekte. Die divisie sien oorhoofs om na die GWK-groep se personeel met die uitsluitlike doel om GWK se status as voorkeur werkgewer in die Suid-Afrikaanse landbousektor te handhaaf. GWK se finansieringsbesigheid is ook deel van dié divisie. Hierdie besigheid bied finansieringsoplossings aan produsente ter onder-steuning van GWK se bedrywe. Die besigheid se dienste sluit produksielenings vir die verbouing van produkte, veeproduksie-lenings, kopersrekeninge, maandrekeninge, veeveilingsrekeninge en afbetalings-ooreenkomste vir die aankoop van toerusting, wingerdvestiging en vee-aankope in.
GWK streef daarna om te innoveer met kliëntgerigte, kreatiewe oplossings en energieke implementering. Die maatskappy se waardes soos integriteit en sosiale verantwoordelikheid is ononderhandelbaar. Investering in die gemeenskap is deel van hoe GWK besigheid doen.
Daarom doen GWK ook soveel as moontlik verwerking van landbouprodukte plaaslik om só die plaaslike ekonomie te stimuleer. Gehalte handelsmerke, wat insluit Certified Natural Lamb, Landzicht Wyn en Top White-mieliemeel word daardeur regstreeks aan die omgewing gekoppel waar die onverwerkte produkte geproduseer word. Bemarking word op hierdie manier ook indirek gedoen vir die omgewings waar GWK sy sake bedryf.